Vreesloos. Trots. Afrikaans.
Panjo en Goosey Fernandes herenig. Johan Swarts. Pta-middestad. Sê my.
UPDATE: Vandag se inskrywing volg om 13:00 in plaas van 12:00.
Behalwe dat my internetkonneksie die afgelope dag of twee wisselvallig is, is daar eenvoudig te veel ander dinge op my kefstok wat aandag verg. Vergewe my asseblief dus vir vandag se kort inskrywing. Dit wat my besig hou is alles persoonlik.
Ek sien Panjo is uiteindelik tuis. Maar het sy eienaar ‘n permit? Laasgenoemde sê hy het maar die Mpumalanga-parkeraad stry. Wat gaan van arme Panjo word?
Ek ry deur die Pretoria-middestad en kyk hoeveel Afrikaanse name ek kan raaksien. Omtrent al die geboue het òf ‘n inheemse naam Afrikaanse name is bitter skaars. Ek sien dat die Helde Akker se heining darem herstel is want twee, drie weke gelede het dit maar kak gelyk daar. Daarvoor is ek dankbaar. Wie van julle werk in die Pretoria-middestad?
Johan Swarts se artikel, Gevoelens moet nie maatstaf wees, het betrekking. Hier’s hy:
Mense verduidelik dikwels hul ongeloof in die bestaan van ‘n teïstiese god met die woorde: “ek kan nie in ‘n God glo wat mense verdoem om vir alle ewigheid in ‘n hellevuur te brand nie. Hoe kan ‘n liefdevolle wese so iets toelaat?”
‘n Mens kan daaroor sê wat jy wil, maar dis ‘n argument met ‘n morele ondertoon waarteen daar kwalik gestry kan word. Min mense hou van kwaaddoeners, wat beteken dat die argument in die meeste situasies die morele hoë grond het. As ‘n vermeende kwaaddoener boonop nie ‘n mens nie, maar ‘n God is wat veronderstel is om per definisie goedaardig en besorgd te wees, kom die argument soveel te meer sinvol voor.
Tog beteken dit nie veel nie.
Die probleem met hierdie manier van redeneer is dat dit heimlik niks meer as die eggo van persoonlike voorkeure is nie. Dit berus op sentiment, maak staat op die speker en sy of haar aangesprokenes se gevoelens oor ‘n bepaalde saak om die retoriese wa deur die drif te trek. “Patos”, noem redenaars sedert Cicero hierdie tegniek: oorreding deur middel van gevoelswaarde.
Gevoelens is nie goed genoeg om die bestaan (al dan nie) van enigiets te bewys nie. Die waarheid was nog nooit ‘n demokratiese proses nie. Feite word nie weggewens of ingestem nie – hulle ís net. Die lug ís bedags net blou. Die seë ís net sout (behalwe, natuurlik, as BP in die prentjie kom). Metale sit uit wanneer hulle verhit word. Organismes sterf. Lig is vinniger as klank. Elektrisiteit skok. Om nie van hierdie feite te hou nie, verander niks aan die feit dat hulle feite bly nie.
Prof Piet Strauss en derduisende Suid-Afrikaners kan byvoorbeeld so hard glo as wat hulle wil dat evolusie die grootste leuen onder die son is – dit verander niks aan die feit dat ‘n biodiversiteit van spesies oor miljoene jare deur middel van natuurlike seleksie ontwikkel het nie. (Dit verander ook niks aan die feit dat Strauss die afgelope week ‘n verleentheid vir die NG-Kerk was nie, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.) Om te weier om iets te glo, maak dit nie minder waar nie.
Insgelyks, om nie te hou van die ideë van God wat ‘n hel geskep het waar gestorwenes tot in alle ewigheid gepynig word vir hul aardse sondes nie, het niks te make met die bestaan van God of die hel nie. Dis natuurlik nie ‘n baie vriendelike gebaar van God se kant af nie, maar dis kwalik rede genoeg om nie in God te glo nie. Dis oorgenoeg rede om nie van God te hou nie, ja – om te dink dat Hy onregverdig en kleinlik en irrasioneel is. Om egter aan te voer dat jy op grond hiervan nie in God se bestaan kan glo nie, is onsinnig.
Treffendheid is nie die waarmerk van die waarheid nie.
Om ongelowig te bly weens ‘n afkeer aan die hel (of aardse pyn en lyding wat God volgens jou kon keer) is emosioneel gelaai en treffend, maar in wese niks meer as emosionele masturbasie nie.
Ek het my sê oor bogenoemde reeds hier gesê. God wen. Punt. Moving on, swiftly.
Aanmerkings:
- Nella, die worshond is hoogsmoontlik ‘n goeie alternatief vir ‘n Rottweiler, maar dikgat worsbrakke grief my – Mietsie sal op ‘n streng dieët moét wees.
- Sprinter, Panjo (‘n tier) is gisteraand met sy eienaar herenig.
- Moreen, dink jy ‘n skool piranhas genaamd Julius kan die vrees van die hel by gewapende rowers injaag? Ten minste kan die worshond blaf en hul hakskene byt.
- Suz, ek love Jack Russells. Hulle is vreesloos.
- BabyDragon 1010, jou aanmerking is scary. Donners scary.
- Gatvol, solank Mietsie in my gymsak kan pas is die Kaap Hollands.
- Sharpshoot, ja ek is gek na GSD’s maar daarvoor het ek ‘n groot erf nodig. My erf is effe klein en beperkte spasie sal onregverdig teenoor my woef wees.
- Dellie, jy’s reg, dit is swak netiquette om in CAPS LOCK op die Internet te chat.
- Sprinter, geen probleem. Só leer mens.
- Suz, ek spandeer deesdae minder tyd voor my rekenaar as voorheen en kan dus nie onmiddelik op aanmerkings reageer nie. Maar ek lees alles.
Ek is môremiddag 12:00 terug met my kraakvars Vrydag-inskrywing. Moet dit nie misloop nie.
Lekker dag.
Frank Botha
| Print article | This entry was posted by Frank Botha on 29/07/2010 at 12:00, and is filed under DAGBOEK. Follow any responses to this post through RSS 2.0. Both comments and pings are currently closed. |
Comments are closed.
about 1 month ago
Worshond kan werk – ‘n klein brakkie met ‘n diep stem wat enige rower die skrik op die lyf sal jaag, en natuurlik jou skoonma ook. Dinamiet kom in klein pakkies.
about 1 month ago
Ek het gehoor dat die eienaar van Panjo meer as een tier het? Dankie Frank, ek het verneem dat die tier veilig is. Dit is ‘n brokkie goeie nuus.
Dit wil voorkom of julle my sal moet leer van netiquette.
about 1 month ago
Frank, dit hang af waar die piranhas is. Jy kan altyd in ‘n kasteel bly met ‘n watergroef. Dan kan jou piranhas daarin rondswem. Jy kan altyd in die Amazone gaan bly, daar is piranhas volop, en die landsburgers se “kultuur” verskil so bietjie.
about 1 month ago
Jy kan ‘n GSD in ‘n flat ook aanhou (sonder tuin) – vat hom net vir gereelde walks…
about 1 month ago
Ek werk in Pretoria se middestad, en elke dag is erger as die vorige een. Mense wil, of kan net eenvoudig nie bestuur nie.
about 1 month ago
Ek dink ‘n Tarantula is die antwoord, hulle hoef nie so gereeld gevoer te word nie, en net mense wat jou regtig like gaan vir jou kom kuier.
As jy ‘n woef moet kry, dink ek ‘n Jack Russell, hulle is oulik.
about 1 month ago
‘n Jack Russel wil baie liefde he. Het jy baie liefde Frank?
about 1 month ago
Langebaan wen.